Uit die hart van ‘n moeder…

Uit die hart van ‘n moeder…

Renate kon net nie bybly in die hoofstroomskool nie. Ons het selfs privaatskole probeer. Ten spyte van ure se harde werk, was sy nóóit beloon nie. Sy het nie eers tyd gehad om net kind te wees nie. Renate het begin glo sy is dom. 

In Januarie 2014 het ons ‘n bang en onseker graad 8 kind afgelaai by Jan Krielskool. ‘n Paar dae later het ek gevra of sy gelukkig is in die nuwe skool. “Ja, Mamma! Vir die eerste keer is ek nie meer anders nie.”

Skielik het Renate ontpop in ‘n gelukkige kind. Sy het akademies baie beter begin vaar. Die skool het ook haar prestasies vir sport buite skoolverband erken. Sy is selfs gekies as onderhoofdogter en het haar pligte baie ernstig opgeneem.

5 Januarie 2019 het ons Renate se matriekuitslae ontvang. Ons kind het geslaag! Vir haar was dit net nog ‘n stap in haar lewe.

“Vir my en haar pa was dit een van die mees emosionele oomblikke ooit. Hierdie kind wat ons gedink het nooit skool sou voltooi nie, het geslaag met matrikulasievrystelling!”

Die onderwysers en ander kundiges by Jan Krielskool het ‘n onseker kind gehelp om as ‘n trotse, opgewonde jong dame die wêreld in te gaan.

Hoe kan ons ooit dankie sê?

– René van Reenen