Liggieboom 2017

Image module

Lettie, mamma van Angelique O’Connel, vertel dat sy nog presies onthou hoe sy gevoel het toe hulle moes hoor dat hul enigste kind heeltemal doof is. ’n Donkerte het oor ons gesak, vertel Pa-Ettienne. Onsekerheid, hartseer en ’n vreeslike angs pak jou beet. Wat gaan van haar word? Hoe kan ons haar help? Hoe swaar gaan sy kry?

Negentien jaar later, by Jan Krielskool se Prestige-aand, is die beskeie Angelique bekroon as die duxleerder vir akademie. Sy het provinsiale kleure vir netbal, atletiek en toutrek verwerf en twee ambassadeurstoekennings ontvang. Sy was boon-op onderhoofmeisie.

Dank die Here! Ons beker loop oor, omdat baie goeie mense ’n kokon van liefde en aanmoediging om ons dogtertjie geweef het. Sy het ’n pragtige skoenlapper geword!

Danksy mense met groot harte, vertel Lettie, kon ons op 16 maande die enorme koste van ’n kogliêre inplanting dra. Ons is opgelei hoe om haar te help woorde aanleer en sinnetjies bou. Uit die sintetiese klanke wat sy toe kon hoor, moes sy ’n taal aanleer. Dit het lang ure van herhaling en herhaling gevra.

Op 7-jarige ouderdom word Jan Krieskool haar veilige en stimulerende wêreld. Die graad 1-juffrou het haar aangeneem soos ’n eie kind. Sy het gereeld spraak- en taalterapie, ook arbeidsterapie en ander professionele dienste ontvang – sonder ekstra koste! In die klein klassies kon Angelique beter hoor, beter konsentreer en baie individuele aandag kry. Dan was daar ook nog die besondere verhouding met juffrou Elnette in graad 4, juffrou Elsefie by terapie en meneer Papies op die sportgronde. Hulle is ervare en beskik oor baie kennis en nog meer begrip.

Hierdie kokon van kundigheid en goedhartigheid is moontlik omdat donateursvriende – goeie mense met groot harte – die kinders van Jan Kriel dra.

Image module

Annie, soos haar vriende haar noem, vertel dat die Jan Kriel-omgewing dit makliker maak om jouself en jou probleem te aanvaar. Al haar maats stry ook met een of ander hindernis. En jy begryp dat jy dat anders is, maar nie daarom minder werd nie.

Elsefie Wranz, haar spraak- en taalterapeut, sê taalterapie is nie lekker nie. ‘n Kind word oor en oor gedril en op haar foute gewys, totdat dit uitgestryk is. Dit moet balanseer word met ‘n sagte omgewing. Omdat Angelique akademies begin presteer het, was daar sprake dat sy na hoofstroom-onderwys sou gaan. Elsefie, met haar kennis en ervaring moes intree sodat die terapeutiese omgewing van Jan Kriel nie te vroeg weggeneem word nie. ’n Skoenlapper het immers tyd nodig om sterker en sterker te word; om self uit haar kokon te kan wikkel.

Kyk na die video waarin Angelique haar storie deel deur hier of op die foto te klik.

Image module

Aan die einde van elke jaar en in die gees van Kersfees, word liggies aan die groot boom op Jan Kriel se gronde gehang. ‘n Kerskonsert word afgesluit met “Stille Nag, Heilige Nag”. Met die aanskakel van die liggies staan almal vir ’n paar oomblikke stom van verwondering! Hierdie Liggieboom-geleentheid is jou kans om deel te word van . . .

klein liggies wat die Groot Boodskap van Liefde vir Jan Kriel se kinders dra!

Daar is nog 556 kinders by Jan Kriel. Net soos Annie het hulle goeie mense met groot harte nodig om ’n kokon van liefde en kundigheid om hulle te weef.

Wil jy nie asseblief – vir slegs R100 – ’n klein liggie borg en ook ‘n groot rol speel in die lewe van ‘n Jan Kriel kind?  Jy kan selfs 3 of 5 of ’n hele string van 10 liggies borg! (Met verlede jaar se liggies het julle die ekstra kostes van bykans 100 Jan Krielers gedra!)

Kom, gee jou klein liggie met groot liefde!

Skoenlapper-groete,

Fanie

Dr SJ Herholdt

Direkteur

Image module