Ons groet ‘n Baanbreker!

Ons groet ‘n Baanbreker!

Die SAALO-span is: Siobhan van der Linde, Christa Kotzé, Christine van der Merwe, Bernice Venter en Mariëtte van der Vyver.

Christa Kotzé (nee Senekal) vertel (met ‘n vonkel in haar oog) dat sy in 1980 by Jan Krielskool aangesluit het omdat sy so verlief was op ‘n Kaapse dokter. As ons egter vandag terugkyk weet ons dit was eintlik die Here wat haar met die hand uitgesoek het en hier geplaas het om ‘n groot taak vir Hom te verrig. Sy het vir kinders met lees en skryfprobleme baanbrekerswerk gedoen! Jan Kriel se Sentrum vir Alternatiewe Assessering en Leer Ondersteuning (SAALO) is die sigbare vrug van haar werk.

Christa het as skooldogter haar sig begin verloor. Die Here het haar ervaring – om nie te kan lees nie, om anders as die ander kinders te wees, om met hulp soos dik brillense en ‘n dubbele vergrootglas te leer en om nie begrip van onderwysers te kry nie – gebruik om haar voor te berei vir Jan Kriel se kinders. Dit was veral die Panasonic kassetspeler wat haar pa in st 7 vir haar gegee het, wat die verskil gemaak het. Sy het, met hulp van haar ma, leeswerk opgeneem sodat haar ore (gehoor) haar kan help waar haar oë (sig) nie kon nie. Sy het vroeg besef kinders met disleksie is “leesblind”. Hulle kan met dieselfde “omseilingstegniek” (die hulp van ‘n kassetspeler) gehelp word. Voeg daarby dat iemand namens jou kan skryf (transkribeer) indien jy nie kan spel/skryf nie en die resep vir Christa se baanbrekerswerk is gevorm.

‘n Aanvanklike eksperiment met 2 kinders, toe 12 en binne 3 jaar met 70 kinders van Jan Kriel het soveel sukses afgewerp dat die Onderwysdepartement hierdie tegniek amptelik erken het. Tot vandag toe is dit onderwysbeleid, selfs op tersiêre vlak! Die werk het so gegroei dat dit oor jare ‘n spesiale afdeling by Jan Krielskool geword het. Met die koms van digitale klank is die nuutste rekenaartegnologie gebruik – en oral was Christa op die voorpunt. Haar invloed en nalatenskap by Jan Kriel en in die hele onderwysomgewing is onberekenbaar.

Weens haar gesondheid tree sy nou uit. Ons groet haar met die grootste dankbaarheid en met die beste wense!

Beskeie soos sy is, verwys Christa altyd daana dat sy deel was van ‘n span. Daar was altyd mense wat gehelp het – en sy vermeld graag die reuse rol van Jan Kriel se donateurs. Die Onderwys departement het deur al die jare net een personeellid se salaris gedra. Die res van die hele afdeling – ook die inrig van SAALO – is befonds deur donateurs. Dit beloop etlike mljoene rande – waarsonder sy nooit haar lewenstaak sou kon doen nie.

O ja, sy en die dokter, is toe getroud. Christa, mag jy en Dennis nog goeie jare saam beleef!