top of page
Hilette Jan Kriel Instituut

Danika kruip uit haar dop

Danika Lombard het 2 jaar terug van Carel du Toit-skool na Jan Krielskool geskuif.

Sy is nie doof gebore nie, maar op 5-jarige ouderdom het haar ouers agtergekom sy sukkel met haar gehoor en het haar laat toets. Genetiese toetse het vasgestel dat sy en haar sussie aan die Alport-sindroom ly. Hierdie genetiese kondisie veroorsaak beperkte nierfunksie, gehoorverlies en kan in sommige gevalle ook die persoon se sig aantas.


Voordat Danika by Jan Kriel aangesluit het was sy ʼn stil, teruggetrokke dogtertjie, maar vandag is sy ʼn pragtige jong, voorbeeldige dame met selfvertroue en sterk leierseienskappe. Volgens haar mamma, Yolandi, is die kleiner klasse die grootste voordeel. Haar gehoorapparaat werk moeilik as daar te veel lawaai is en die klasassistente help verder om haar aandag-afleibaarheid onder die knie te kry.


Aanvanklik het sy gesukkel om maatjies te maak. Sy kon nie verstaan dat ander leerders se leerhindernisse nie gesien kan word nie, maar almal sien haar gehoorapparate. Haar sigbare gestremdheid het haar net meer teruggetrokke gemaak. Met die hulp van Jan Kriel terapeute en haar klasonderwyser, kon Danika leer dat alle mense lewe met hul eie 'gestremdhede', al kan jy dit nie altyd sien nie. Haar oë het skielik oopgegaan-

“Mamma, ek het DIT, en sy het DAT, maar hier is ons almal maatjies”


Juffrou Elzette spog dat Danika hierdie jaar aangewys is as 'n prefek, 'n eerste vir die laerskool. Sy is ook ʼn entoesiastiese landloopatleet.


“Dit is vir my asemrowend dat een skool leerders met so 'n verskeidenheid van hindernisse kan ondersteun” sê Yolandi.


"Jan Krielskool het my kind die vrymoedigheid gegee om uit haar dop te kruip, om ander se hindernisse te verstaan en ook haar eie te aanvaar".





217 views0 comments

Recent Posts

See All

Comentarios


bottom of page