
Die Jan Krielskool se matrieks van 2024 het nie net 'n uitstekende 100%-slaagsyfer behaal nie, maar 80,3% van die leerders het boonop met toegang tot universiteitstudies geslaag. Die klas van 68 leerders kan ook met 15 vakonderskeidings spog.
Gerrit Odendaal, skoolhoof, het verlede week tydens 'n byeenkoms toe die leerders hul uitslae kom afhaal het, gesê dat Jan Kriel se matrieks nog net twee of drie keer sedert 2016 wat hy by die skool is 'n 100%-slaagsyfer kon behaal.
"Wow, hierdie hemp van my se knope wil almal skiet van die trots,” het hy aan die leerders gesê. "Ons is só trots op julle, want ons weet dit het harde werk gevat."
Odendaal het benadruk hy is eerstens trots op die leerders omdat niemand anders die eksamen vir hulle kon skryf nie, maar hy het ook die ouers en onderwysers bedank vir hul ondersteuning en harde werk wat tot die sukses bygedra het. Ná die Junie-eksamen verlede jaar was daar kommer oor van die leerders wat nie geslaag of nie na verwagting presteer het nie, het Odendaal vertel.
"Daar is ingeklim met winterskole en somerskole. Die personeel het hul vakansies opsy gesit om te kom ekstra-klasse gee en ons matrieks het dit bygewoon." Uiteindelik het al die moeite wat ingesit is, vrugte afgewerp. "Die matrieks sal onthou, ek het vir hulle gesê: 'Hierdie (matrieksertifikaat) is 'n stukkie papier wat niemand van jou kan wegneem nie'."
Benewens die slaagsyfer is die gehalte van die kwalifikasie ook belangrik, het Odendaal uitgewys. In 2023 het 61% van Jan Kriel se matrieks universiteitstoelating verwerf. "Dit was baie goed want dit is meeste van ons leerders." Odendaal vermoed die 80,3% leerders wat in 2024 met universiteitstoelating geslaag het, is dalk die meeste nóg vir die Jan Krielskool. "Dit beteken daar gaan deure vir julle oop; daar is moontlikhede. Hierdie is nie die einde van julle pad nie, maar die begin. Somtyds vat die reis 'n bietjie langer, maar dit is 'n wonderlike reis vol moontlikhede," het hy vir die leerders gesê.
Die klas se 15 vakonderskeidings sluit een elk in vir toerisme, rekenaartoepassingstegnologie, besigheidstudies, landboutegnologie en Afrikaans huistaal, sowel as vyf onderskeidings vir wiskundegeletterdheid en vyf vir Afrikaans eerste addisionele taal. Die vyf leerders wat die beste presteer het is Joshua Meyer, gevolg deur Kian Smith en Nevito Louw (gesamentlik tweede), Marlie Blom en Nasr Esau.
Justin Pretorius, onderhoof, sê die leerders se prestasies en die vakonderskeidings getuig van harde werk en vasberadenheid. "Hul toewyding dien as voorbeeld vir al die leerders."
Pretorius sê die skool het in 2024 verskeie doelgerigte inisiatiewe begin om die leerders in staat te stel om hul beste te kan lewer. Dit het ingesluit: akademiese intervensieprogramme gefokus op behoefte; ondersteuning in die koshuis om geskikte studieruimtes te verseker; vak-werksessies met fokus op kernonderwerpe; bykomende leergeleenthede in vakansies; weeklikse vergaderings vir elke graad om vordering te monitor en bekommernisse uit te lig; bystand en motivering aan leerders aanlyn om hulle op koers te hou; en die inwerkstelling van ondersteuningsplanne vir leerders wat volgens elkeen se behoeftes aangepas is.
Pretorius sê die matrieks van 2024 se fantastiese uitslae onderskryf hoe belangrik is holistiese ondersteuning en die onwrikbare geloof dat elke leerder sukses kan behaal. "Jan Krielskool is 'n baken van hoop en uitnemendheid in spesiale behoefte-onderrig wat bewys met die regte ondersteuning is geen droom buite bereik nie."
Commentaires