top of page

Juffrou Wanika- My hart is by Jan Kriel

Juffrou Wanika Jonker was self 'n leerder by Jan Krielskool. Sy het haar opvoeding in 'n hoof-stroomskool begin, maar het glad nie ingepas nie en is geboelie omdat sy ‘anders’ was. Ons het met haar gesels oor haar skoolloopbaan en hoe dit nou voel om as onderwyseres terug te keer!

 

“Dit is vir my die grooste voorreg om elke dag in te stap en terug te saai in kinders se lewens wat eens presies soos ek gevoel het. Ek is trots om te sê ek was 'n leerder hier. Opvoeders wat eens in my gesaai het, noem ek vandag kollegas en selfs vriende! Jy moet lief wees vir wat jy doen om 'n verskil te kan maak en ek lewe elke dag my passie met ontsettend baie liefde uit! Ja, dit is met tye uitdagend maar, ek verruil dit vir niks. MY HART IS BY JAN KRIEL!”



Hoekom het jy na Jan Krielskool gekom 🤔


My skoolloopbaan by Jan Krielskool het in Graad 4 begin. Ek het by 'n ongelooflike opvoeder Juffrou Marina Conradie in die beertjie klas begin. Ek was verwys na Jan Krielskool omdat ek in hoofstroom baie gesukkel het. Ek het glad nie ingepas nie en was elke dag geboelie omdat ek as “anders” beskou was. Ek was gediagnoseer met ADHD en disleksie. Dit was vir my baie moeilik om in te pas en gelukkig te wees in 'n hoofstroomskool. Opvoeders het my nie verstaan nie en het ek by tye “verlore” en bitter alleen gevoel. Daar was nie 'n pouse waar ek nie alleen gesit het nie, buite of in die badkamer. My jonger boetie was saam met my in die skool en het ek pouses na hom toe gehardloop vir 'n gevoel van veiligheid. Die oomblik toe ek by Jan Krielskool begin het, het my HELE LEWE VERANDER . . . Juffrou Marina was een ongelooflike opvoeder wat na al my behoeftes omgesien het. Ek het gevoel ek word aanvaar, verstaan en kon ek maats maak – iets wat ek voorheen glad nie gehad het nie. My selfbeeld en vertroue het dadelik verbeter.


Vertel bietjie oor jou tyd by Jan Kriel 🤪 

 

My skooljare was die beste tyd van my lewe! Ek het elke oomblik van my skoolloopbaan ten volle geniet. My gunsteling vakke was Afrikaans by Juffrou Prinsloo, English First Additional language by Juffrou Debmarie Simons, Toerisme by Mnr. Jaco Snyder en Visuele Kuns by Juffrou Makkie Schoeman.

 

'n Hoogtepunt was verseker sport! Ek het netbal gespeel en atletiek gedoen. Juffrou Xiomara Kotze het 'n groot rol gespeel in my liefde vir sport. Soos ons weet, Juffrou Xiomara is SPORT! 😊 Ons het altyd gespot, maak nie saak waar jou wegspring punt op Coetzenburg se baan is nie, al wie jy hoor is Juffrou Xiomara, niemand anders nie! (let wel, dan sit sy op die stadion . . . ). Die toere saam met my vriende en opvoeders het 'n groot passie vir sport by my gekweek. Daarom is sport so groot deel van my lewe – dit is waar jy vriende maak, met mense gesels wat jy nie sommer maklik andersins sou mee gesels nie, saam as 'n span werk en ook mekaar beter leer ken. 


Jan Kriel het my geleer om in myself te glo en hard te werk vir wat ek in die lewe wil bereik. Ek was hoofdogter, Prefek en Voorsitter van die VRL in die Hoërskool. Nog 'n hoogtepunt van my skoolloopbaan was die voorreg om as Hoofdogter my skool te verteenwoordig by die Londen Wynveiling. Ek het 'n toespraak gelewer. Dit was 'n ongelooflike voorreg en belewenis. Selfs vêr oor die waters het mense 'n liefde vir ons skool gehad!

 


Hoekom het jy onderwys geswot 🤔 


Ek het altyd geweet ek wil 'n verskil in ander se lewe maak. Ek het dit finansieel nie maklik gehad nie en het baie ekstra werk gedoen om my studies te kan bekostig. Daar was tye wat daar nie eers geld vir basiese behoeftes was nie.

 

Ek wil graag 'n paar opvoeders uitsonder omdat hulle my passie vir onderwys raak gesien het en as mentors vir my opgetree het: Juffrou Marina Conradie, Juffrou Elnette van Eeden, Anika Keet en Juffrou Mariëtte Acker. Hulle sê altyd “it takes a village to raise a child”. Dit is presies wat die mense vir my gedoen het. Ek het 'n oproep ontvang van Dr. Lidia van Vuuren, destyds Sielkundige by Jan Krielskool, wat my 'n werkgeleentheid geoffer het as 'n fasiliteerder by Jan Kriel. Dit is hier waar my loopbaan begin het in die onderwys. Ek het die voorreg gehad om myself op te werk by Jan Krielskool. Ek was 'n fasiliteerder vir 'n Outistiese seuntjie in Graad 3, Nasorghoof en toe 'n klasassistent in die Intermediêre Fase (IF). Ek kon my B.Ed graad in Onderwys deur UNISA voltooi met ongelooflike kennis van spesiale onderwys. Ek het gekwalifiseer vir 'n beurs en het my studies voltooi.  Ek het 'n pos gekry as die LOGO Opvoeder (Leer Ondersteun Groei Ontwikkel) ) in IF en nie lank daarna nie my voete gevind as Opvoeder in my huidige Graad 4 pos. Dit is een van my grooste prestasies in my lewe omdat ek baie uitdagings in my persoonlike lewe ervaar het. Ek het nooit gedink ek sal die Skoolhoof toekenning ontvang nie. Een ding wat ek geleer het is dat ons almal 'n “storie” het en die lewe jou niks skuld nie. Wat jou gaan onderskei van die res is hoe jy kies om jou uitdagings aan te pak en nie jou tekortkominge as verskonings te gebruik nie. My vakke waarop ek gefokus het in my studies was: Wiskunde, Tale, Kuns, Liggaamlike sport en Sielkunde.

 

Hoekom Jan Kriel 🤗 


Ek het van dag een af diep binne my hart geweet dat daar geen ander skool is waar ek wil skool gee nie, behalwe Jan Kriel. Mense wat eens op 'n tyd in my lewe gesaai het noem ek vandag kollegas en selfs vriendinne/vriende! Dit is vir my die grooste voorreg om elke dag in my klas in te stap en te saai in kinders se lewens wat eens op 'n tyd presies dieselfde gevoel het as ek. Daar is niks meer bevredigend as om te sien watter verskil ons elke dag maak nie. Ek is trots om te kan sê ek was eers 'n leerder en nou 'n opvoeder by Jan Krielskool. Ek lewe elke dag my passie met gemak en soveel liefde uit. Ja, dit is met tye uitdagend maar ek sal dit vir niks verruil nie.  My hart is by Jan Kriel – ek kan met alle eerlikheid sê ek is op my gelukkigste!


 

Wat motiveer jou 😊


Wat my dag spesiaal maak is my kinders! Die briefies, blommetjies of selfs net 'n drukkie,  'n dankie boodskap van 'n ouer of voog. Dit is iets wat ek diep koester in my hart. Ek lewe by “love first, then teach.” Jy moet lief wees vir wat jy doen om 'n verskil te kan maak.

 

My gunsteling vakke om aan te bied is Sosiale Wetenskap, Natuur Wetenskap en Liggaamsoefeninge. Natuurlik Liggaamsoefeninge, want ek is self lief vir sport en ons is werklik bevoorreg met die mooiste gronde om van gebruik te maak. Dit is hier waar jy jou kinders “buite die klas” beter leer ken.

 

Looking back  

 

Jan Kriel is bekend vir sy baanbrekerswerk! Die skool het so baie verander en dit is ongelooflik om deel van die span te wees. Ons is bevoorreg met ons twee lokale in IF – LOGO sentrum (Leer Ondersteun Groei Ontwikkel) waar al ons Formele Assesserings Akkommodasie plaasvind. Dit was vir my 'n voorreg om vir 'n tydjie daar te werk en LOGO te bestuur. Ek het weer baie nuwe tegnieke geleer en mense ontmoet. In die MTN slim laboratorium, wat toegerus is met van die beste tegnologie om leerders te help, leer ons kinders ongelooflike rekenaar tegnieke aan. Ons word gereeld opgelei.

 

Jan Kriel het van die beste personeel wat jy kan kry. Ons is bevoorreg om bymekaar te kan leer en saam 'n passie te deel vir wat ons doen. Elke liewe een vul mekaar so mooi aan.

 

 

 
 
 

Commentaires


bottom of page