JAN KRIELSKOOL BELOON KARAKTER

JAN KRIELSKOOL BELOON KARAKTER

RIAAN BEKKER TROFEE vir die Tweedemyl leerling

Hierdie spesiale toekenning het aan Adriaan le Roux gegaan. Hy was in 2020 ‘n Graad 12-er wat nie op die leerlingraad was nie, maar uitgeblink het in lojaliteit, diensbaarheid en betroubaarheid teenoor Jan Krielskool.

Adriaan is ‘n uiters flukse en behulpsame mens. Hy is ‘n praktiese doener. Hy het selfs die Covid-sanitasiestasie vir die skool gemaak.

Adriaan sê die konteks van Jan Krielskool het hom verander van ‘n skaam, onsekere en afsydige seuntjie na wat hy vandag is. Hy hoop om hierdie jaar te begin werk – verkieslik in ‘n landbou-omgewing.

 

MARINCOWITZ-TROFEE vir die Inspireerder

Hierdie trofee, vir iemand wat doelwitte gestel het en dit bereik het met toegewyde uithouvermoë onder moeilike omstandighede, het aan Soja Jonkers gegaan.

Sonja is fisies gestremd en haar funksie is uiters beperk. Sy kan weinig meer doen as om haar elektriese rolstoel te beheer. Om te kan lees/leer moet iemand selfs haar boek (teen die regte hoek) vashou en die bladsye omblaai. Tog is sy blymoedig, opgeruimd en uiters pligsgetrou. Sy het ook toekennings vir akademiese prestasies gekry.

Sonja sê sy sal Jan Kriel altyd onthou as die “omgee-skool” met die liefdevolle personeel. Sy wil graag vanjaar verder aan die Universiteit van Kaapstad studeer.

 

CONRAD DANNHAUSER-TROFEE vir Die Deugsame leerder

Hierdie trofee het aan Angelique van Eck gegaan – ‘n leerder met karakter . . . wat altyd hoflik en vriendelik is en nooit ander teleurstel nie.

Angelique is die pragtige kind wat nooit iets leliks van enigiemand sal sê nie. Sy doen haar eie akademiese werk getrou, maar is altyd op die uitkyk om ander rondom haar te help. Sy doen alles met deernis en ‘n glimlag.

 

SKOOLHOOF-TOEKENNING vir Die Rolmodel

Hierdie toekenning het aan Erik Swanepoel gegaan. Die skool is trots op hom omdat hy ‘n goeie ambassadeur vir Jan Krielskool is.

Erik is selfstandig en volwasse – meer as sy portuurgroep. Hy is ‘n reëlgebonde, voorbeeldige en uiters verantwoordelike jong man.

Saam met sy skoolwerk, werk hy ook alreeds in sy pa se onderneming.

 

CONSTANT NIGRINI-TROFEE vir Die “All-Rounder”

Hierdie trofee gaan aan ‘n Graad 12-er, Ruloff Kruger, wat sukses behaal op akademiese en sportgebied en met leierseienskappe.

Ruloff moes in 2020 die teleurstelling van gekanselleerde sporttoere weens Covid-19 verwerk. Hy deins egter nie terug vir uitdagings nie en is bekend as netjies, hardwerkend en afgerond.

 

DANIEL HIRST-TROFEE vir Die Vasbyter

Hierdie trofee gaan aan die leerder wat nooit opgee nie. In 2020 was dit Jamie Paulse.

Jamie is so joviaal en sosiaal – met ‘n goeie humorsin – dat ‘n mens na ‘n rukkie nie meer haar uiterse spasitisiteit opmerk nie. Sy glimlag altyd – al is sy so afhanklik dat sy hulp benodig met basiese funksies soos om te eet. Skoolwerk lyk ‘n onbegonne taak, maar Jamie sal aanhou totdat sy dit baasgeraak het.

Jamie kom van Stellenbosch af en het in die koshuis gebly. Sy kan nie uitgepraat raak oor al die mense by Jan Kriel wat haar gehelp het nie. Jamie wil graag besigheidsbestuur by ‘n kollege studeer.

 

 

Visit the South African Government's COVID-19 Information page at sacoronavirus.co.za